Ons moet oor dinge begin praat om daaroor te kán praat

Deur: Benito Trollip & Risha Lötter

Onlangs moes een van ons voorberei vir ʼn aanbieding oor Afrikaans en of die taal voorsiening daarvoor maak om oor genderdiversiteit te praat. Die kort en die lank daarvan is dat dit wel in Afrikaans moontlik is om oor gender te praat; die vestiging of bewustheid van die woordeskat is net nog nie so ver gevorder onder alle gebruikers van Afrikaans nie. En vestiging van woordeskat en betekenis is belangrik, aangesien dit hoofsaaklik van volgehoue gebruik afhanklik is.

Die proses om vir hierdie aanbieding voor te berei, het ons aan die groter idee van hoe om oor enige iets te praat sonder dat jy oor die woordeskat daaroor beskik, laat dink. Word dit nie later makliker om net ’n tema te vermy of net oor te skakel na ʼn taal soos Engels wanneer jy nie in jou eie taal oor iets kan praat nie? Dit is nie te vergesog om skakels te maak tussen die begrip van onderwerpe of temas binne ʼn sekere gemeenskap en die gebrek of teenwoordigheid van die nodige woordeskat nie. Met ander woorde, die afwesigheid van ’n tipe woordeskat spreek boekdele oor daardie gemeenskap (of eerder dele van die gemeenskap) se vertroudheid en gemak met die onderwerp.

Die eerste aspek wat belangrik is wanneer ʼn mens oor hierdie onderwerp skryf, is die onmiskenbare verband tussen taal en konseptualisering. Die wedersydse invloed van ʼn gebrek aan woordeskat, ʼn onwilligheid om die beskikbare woorde te ondersoek en te definieer, en die vermoë om die inhoud daarvan te konseptualiseer, is ons insiens ʼn gegewe. Daar is waarde daarin om met presisie oor iets te kan praat en te weet wat die komponente in die woord tot die inhoud bydra: engelevlerk en kroegdeur is ewe ondubbelsinnig en die woorde beskryf doeltreffend die konsep waarna verwys word. Vrae wat gevra kan word oor genderterme is of aseksueel, cisgender en queer begrippe is wat ewe duidelik is vir almal én of dit dieselfde vir almal beteken?

Die risiko om sekere woorde of etikette te gebruik sonder begrip van die omvang of presiese betekenis daarvan, kan daartoe lei dat ander mense jou as oningelig of moedswillig ervaar. Dit kan om die beurt dien as afskrikmiddel wanneer mense wél wil gesels oor iets waar hulle nie oor die volle woordeskat beskik nie. In Engels word die LGBTQ(IA+)-woordeskat deurlopend uitgebrei en kan dit moeilik wees om op hoogte te bly van die nuutste woorde en definisies. Woorde soos “comphet” en “bisexual erasure” (uit vele meer) het byvoorbeeld onlangs deel geraak van die openbare LGBTQ(IA+)-gesprek, beide met ‘n lang geskiedenis en definisie daaragter.[1] In Afrikaans is daar egter nog nie werklik sprake van gelykstaande woorde nie; tog is die ervaring daarvan nie beperk tot die Engelssprekende sfeer nie. Hoe praat ‘n mens dan hieroor wanneer die woorde ontbreek? 

In die digitale era waarin almal funksioneer, kan ons elkeen binne oomblikke verskillende bronne raadpleeg om die betekenis van ʼn woord uit te vind. Die onus rus op die persoon wat na hierdie konsepte se betekenisse soek om krities te staan teenoor die bron(ne) wat hulle uiteindelik vind. Grammarly het byvoorbeeld in Junie 2020 ʼn blog met die titel “33 LGBTQ(IA+) Terms You Should Know in 2020” gepubliseer. In die Grammarly-blog word hiperskakels na ander bronne of blogs ook vir die leser verskaf, wat wys op ’n ingesteldheid om mense met meer inligting toe te rus, eerder as kategories oor die betekenisinhoud wat hulle aanbied te wees.

Dié oefening het ons opnuut bewus gemaak daarvan dat taal onlosmaaklik deel is van ander sfere. Daar is nie ʼn plek waarin jy net taal kan bestudeer waar dit nie raakpunte met politiek, identiteit of gender het nie. Alles het uiteindelik ʼn invloed op alles; taal bestaan nie in ʼn vakuum nie. By implikasie is die bestudering daarvan ook nie ʼn objektiewe oefening nie, jy maak jouself deel van ʼn kosmos waarin groter dinge ter sprake is as net dooie woorde op papier. Konsepte groei en begrip ontwikkel soos ons mét mekaar óór mekaar praat.

Uiteindelik moet ons die ongemaklikheid wat mense ervaar om nie oor ‘n onderwerp te praat wanneer die woorde onbekend en ingewikkeld voel nie, aanspreek. Mense sug maklik geïrriteerd oor “al die nuwe woorde” terwyl elke woord eintlik ’n geldige lewenservaring verteenwoordig. Is dit dus ons plig om onsself op te voed, nuwe woorde aan te leer, moeite te doen hiermee? Waar begin ’n mens? Is dit die werk van die taalkenner en/of aktiviste, of van die gewone spreker? Ons moet ruimtes skep waarin Afrikaanssprekendes, maar ook enige persoon in enige taal, oor genderdiversiteit kan en wil praat.

Ons sluit graag af met ʼn aanhaling van Olivia M Coetzee wat in ’n meningstuk op LitNet verskyn het:

“’n Mens moet mos iets ees ’n woord gie voo djy dit kan invat, en rêrig sense maak daavan voo dit kan meaning het, al is dit nie altyd norag nie.”

[1] Die terme het reeds Nederlandse ekwivalente, naamlik “verplichte heterosexualiteit” en “biseksuele uitwissing”. Dit kan ’n opsie vir Afrikaans wees om hierdie terme by Nederlands oor te neem.

 

English summary:

In this piece the influence of specific vocabulary when trying to describe or discuss something is explored. We elaborate on the ways in which meaning is pervasive; oftentimes rigorous digital searching is needed and ignorance is no defence when new or unknown concepts are discussed. The way in which language functions as a way of bringing our experiences into being is also examined. The piece ends with a quote connecting our ability to name something with our ability to conceptualise it.