Author: Benito Trollip (SADiLaR Afrikaans Researcher)
Short summary and English title:
Language in the time of a distance creator
In today’s blog the importance and value of language in our current circumstances is discussed. The dual nature of language as a conveyer of information and a medium of encouragement form the basis of the discussion.
Ons leef tans in ʼn wêreld waaraan ons so in die bou daarvan gewoond moet raak. In ʼn tyd waarin mense min keuses het en hierdie keuses onder druk moet uitoefen. Baie mense moet deesdae meer gereeld (en uit noodsaak) aanlyn met mekaar kommunikeer. Videovergaderings en langer e-poskorrespondensies is aan die orde van die dag. Taal en die oordeelkundige (en vir sommige die ‘korrekte’) gebruik daarvan word deesdae al hoe belangriker. Ons moet leer hoe om in ons nuwe wêreld oor ons nuwe wêreld te praat.
Die vraag oor ‘korrekte’ taalgebruik is ʼn maalkolk waaruit ʼn mens nie vinnig ontsnap as jy eers daarin vasgevang is nie. Om dit te illustreer, kan ʼn mens kyk na gesprekke oor die koronavirus en verwante sake. Iets wat my opgeval het, is die gebruik van en debat rondom verskillende Afrikaanse weergawes van (state of) lockdown. Dit is verstaanbaar, aangesien die taalgebruik wat na hierdie virus verwys so akkuraat as moontlik behoort te wees om vir mense die korrekte inligting oor te dra. In hierdie opsig het die gepastheid van alternatiewe soos inperkingstyd / staat van inperking / grendeltyd al heelwat gesprekke tussen mense ontlok. Uiteindelik kom jou keuse van alternatief neer op enige keuse wat jy in die algemeen sou maak – jou persoonlike voorkeur en gesonde oordeel. Solank mense verstaan wat jy probeer sê, wat meer het jy nodig? Dit is nie ʼn streng taalkundige maatstaf om net op persoonlike voorkeur staat te maak nie, maar dis ʼn dapper nuwe wêreld en dalk word persoonlike voorkeur (sonder die benadeling van ʼn ander) al hoe belangriker.
So is wat ‘korrek’ is self ʼn saak van persoonlike voorkeur. Buiten die praktiese nut van taal om inligting oor te dra, behoort die vermoë van taal om te bemoedig ook in gedagte gehou te word. Taal was nog altyd en bly vandag nog ʼn kragtige medium, ongeag die taal of kombinasies daarvan wat ons elkeen praat of verstaan. Soos wat taal vir sommige ʼn wapen is, so is dit ʼn werkstafel of ʼn salwe vir ander. Uiteindelik kan jy in hierdie tyd, wat party dae nogal hopeloos mag lyk en voel, taal gebruik om die afstand tussen jou en ander te verminder. Sonder taal word die afstand tussen ons as mense net groter en ons is nie altyd daarvan bewus nie. Ek onthou die dag toe ek in 2014 in ʼn museum in Nederland was waar die een kunstenaar se kunswerk geskoei was op die tema van afstand. Sy kunswerk was die voetspore wat hy in die museum agtergelaat het, met een bordjie waar hy begin stap het met sy naam en die aantal voetspore wat hy getel het daarop. Kan jy jouself indink hoe dit sou wees as ons as mense net ons voetspore agterlaat? Net daar waar jy jou voet neergesit het, bemoedig en ondersteun het, is al wat van jou oorbly. Hoeveel sal dit veral deesdae beteken as jy vir ʼn ander in sy eie of haar eie taal kan sê:
“Ek sien jou raak, ons is saam in hierdie ding, moenie moed verloor nie”
isiZulu: “Ngiyakubona, sindawonye kule nto, ungalahli ithemba”
isiNdebele: “Ngiyakubona, sisoke entweni le, ungalahli ithemba”
Xitsonga: “Ndza ku vona, hi swin’we eka mhaka leyi, u nga lahli tshembo.”
Engels: “I see you, we are in this together, don’t lose hope.”
Setswana: “Ke a go bona, re mmogo mo ge se, o seka wa latlhegelwa ke tsholofelo.”
Tshivenḓa: “Ndi khou ni vhona, ri rothe kha hezwi zwithu, ni songo lata fulufhelo.”
Sesotho: “Ke ya o bona, re mmoho nthong ena, o se ke wa lahlehelwa ke tshepo.”
Nederlands: “Ik zie jou, we zijn samen in deze situatie, hou moed.”
Duits: “Ich sehe dich, Wir müssen zusammen halten, verlier de Hoffnuning nicht.”
Frans: “Je te vois, nous sommes ensemble dans cette situation, ne perds pas espoir.”