Displaying items by tag: Grendeltyd
Taal in die tyd van die Afstandskepper
Author: Benito Trollip (SADiLaR Afrikaans Researcher)
Short summary and English title:
Language in the time of a distance creator
In today’s blog the importance and value of language in our current circumstances is discussed. The dual nature of language as a conveyer of information and a medium of encouragement form the basis of the discussion.
Ons leef tans in ʼn wêreld waaraan ons so in die bou daarvan gewoond moet raak. In ʼn tyd waarin mense min keuses het en hierdie keuses onder druk moet uitoefen. Baie mense moet deesdae meer gereeld (en uit noodsaak) aanlyn met mekaar kommunikeer. Videovergaderings en langer e-poskorrespondensies is aan die orde van die dag. Taal en die oordeelkundige (en vir sommige die ‘korrekte’) gebruik daarvan word deesdae al hoe belangriker. Ons moet leer hoe om in ons nuwe wêreld oor ons nuwe wêreld te praat.
Die vraag oor ‘korrekte’ taalgebruik is ʼn maalkolk waaruit ʼn mens nie vinnig ontsnap as jy eers daarin vasgevang is nie. Om dit te illustreer, kan ʼn mens kyk na gesprekke oor die koronavirus en verwante sake. Iets wat my opgeval het, is die gebruik van en debat rondom verskillende Afrikaanse weergawes van (state of) lockdown. Dit is verstaanbaar, aangesien die taalgebruik wat na hierdie virus verwys so akkuraat as moontlik behoort te wees om vir mense die korrekte inligting oor te dra. In hierdie opsig het die gepastheid van alternatiewe soos inperkingstyd / staat van inperking / grendeltyd al heelwat gesprekke tussen mense ontlok. Uiteindelik kom jou keuse van alternatief neer op enige keuse wat jy in die algemeen sou maak – jou persoonlike voorkeur en gesonde oordeel. Solank mense verstaan wat jy probeer sê, wat meer het jy nodig? Dit is nie ʼn streng taalkundige maatstaf om net op persoonlike voorkeur staat te maak nie, maar dis ʼn dapper nuwe wêreld en dalk word persoonlike voorkeur (sonder die benadeling van ʼn ander) al hoe belangriker.