ʼn Videoreeks oor intensiewe vorme in Afrikaans

Author: Benito Trollip (SADiLaR Afrikaans researcher)

Short summary and English title:

A video series on intensified adjectives in Afrikaans

In this blog a video series on intensified adjectives in Afrikaans is introduced. Interesting questions about these words are raised, including but not limited to who decides when a compound becomes and intensified adjective and where do these intensified adjectives originate from? The motivation for the videos is given, as well as the disclaimer that the content of the videos is not intended to say what is right and wrong or to change school curricula. The reader is urged to think about the questions raised in the videos as it highlights the complexities of intensified adjectives in Afrikaans.

ʼn Videoreeks oor intensiewe vorme in Afrikaans
In Afrikaans staan daar ʼn groep woorde as intensiewe vorme bekend. Dit sluit woorde soos stokoud, doodnormaal en hondwarm in. Hierdie woorde bied aan ʼn taalgebruiker ʼn manier om sy opinie uit te spreek oor ʼn saak. Iets of iemand is vir hom baie oud, iets of iemand kan vir hom baie normaal wees en die dag of die bord kos is baie warm. Daar is ʼn handvol interessante vrae wat ʼn mens oor sulke woorde kan en behoort te vra. Vrae kan insluit of die eerste deel van die woord saak maak en of daar ʼn verskil tussen vuurwarm en hondwarm is? Het albei woorde dieselfde betekenis en kom jou gebruik van die een of die ander net op persoonlike smaak neer?

ʼn Mens kan maklik vir ure, dae en maande praat en heel waarskynlik vassit oor intensiewe vorme. ʼn Noemenswaardige deel van my PhD gaan juis oor intensiewe vorme en hul betekenis. As ʼn poging om hierdie taalverskynsel en die kompleksiteit daarvan toeganklik te maak, beplan ek en Gustaf Tempelhoff ʼn reeks kort, informele video’s. Hierdie video’s het ten doel om:

  • interessanthede oor intensiewe vorme uit te lug;
  • ʼn gesprek oor intensiewe vorme aan te moedig;
  • toeganklik te wees vir enige persoon wat daarin sou belang stel;
  • vrae te stel oor intensiewe vorme waaroor die kyker volgende keer as hy ʼn intensiewe vorm teëkom, mag en moet wonder.

Die bedoeling van die video’s is nie om:

  • te sê wat aanvaarbaar/reg is en wat onaanvaarbaar/verkeerd is nie;
  • skole se kurrikula te rig nie.

Die voorbeelde wat in die video’s gebruik word, kom uit voorbeelde van taalgebruikers se eie taalgebruik (sien viva-afrikaans.org se korpusportaal). Aspekte waarmee rekening gehou moet word, sluit in dat taalgebruikers nie altyd spelreëls gehoorsaam nie én dat hulle moontlik doelbewus ‘verkeerde’ maniere van skryf gebruik om ʼn bepaalde betekenis te kommunikeer. Taal is gelukkig nie net een ding nie en hierdie video’s hoop om die diversiteit en moontlikhede van taal vir almal te wys.

Vrywaring: Die uitsprake gemaak in hierdie blog, asook in die gepaardgaande video’s, is dié van die skrywer en die insigte of wanopvattings voortspruitend is sy eie.